
STAP WEG VAN JOU TELEURSTELLING ‘N MOOI TOEKOMS BINNE! (Kol. 4:10) ep. 2637
STAP WEG VAN JOU TELEURSTELLING ‘N MOOI TOEKOMS BINNE! “Chuck” Colson iemand wat vinnig opgang gemaak in die Amerikaanse politiek totdat hy een van die magtigste mense in Washington geword het. In 1969 het hy as spesiale raadgewer van president Richard Nixon direkte toegang tot die president van die VSA gehad. Maar toe kom Watergate, een van die grootste politieke skandale in die Amerikaanse geskiedenis. Colson se wêreld stort in duie. Sy reputasie was aan skerwe. Sy politieke loopbaan was verby. In 1974 het hy skuld beken op ’n aanklag van dwarsboming van die gereg. Die man wat eens met soveel aansien deur die gange van die Withuis gestap het, is tronk toe. Gedurende die moeilikste dae van die Watergate-ondersoek het ’n vriend vir Colson C. S. Lewis se bekende boek “Mere Christianity” gegee. Diep geraak deur wat hy gelees het, het Colson besef hoe sy hoogmoed, ambisie en morele kompromieë sy lewe oorheers het. Die keerpunt in sy lewe het gekom een aand terwyl hy alleen in sy motor gesit het. Hy het in trane uitgebars en tot God geroep. Maar sy bekering het nie beteken dat die gevolge van sy verlede skielik verdwyn het nie. Hy moes steeds die gereg in die oë kyk, verantwoordelikheid vir sy verkeerde optrede aanvaar en tronk toe gaan. En so het een van die magtigste mans in Amerika in 1974 gevangene nommer 22326 geword. Chuck Colson is in April 2012 op 80-jarige ouderdom oorlede. By sy gedenkdiens in die Washington National Cathedral het voormalige gevangenes skouer aan skouer met politici en ander prominente openbare figure gesit. Wat ’n merkwaardige getuienis van die verandering wat God in ’n mens se lewe kan bewerk! Toe Colson later op sy gevangenisstraf teruggekyk het, het hy hierdie aangrypende woorde gesê: “God het my grootste nederlaag tot sy eer gebruik!” En miskien is die merkwaardigste van sy verhaal juis dít: God het Colson nie bloot van die gevolge van sy verkeerde optrede gered nie. God het hom juis te midde van daardie gevolge ontmoet en begin om hom in ’n ander mens te verander. Vir die eerste keer het Colson na die wêreld deur heeltemal ander oë begin kyk. Die trotse man wat mag nagejaag het, het begin omgee vir magtelose mense. Die man wat eens vir sy genadeloosheid bekend was, het bekend geword vir sy deernis. Dít is wat die genade van God kan doen! Dit beteken nie dat ons sonde onbelangrik is nie. Dit beteken nie dat die skade wat ons aangerig het, sommer vanself verdwyn nie. En dit beteken ook nie dat bekering ons van verantwoordelikheid of die gevolge van ons dade vrystel nie. Maar dit beteken wel dat ons mislukkings nie die laaste woord oor ons lewe hoef te spreek nie. Jou verlede hoef nie jou toekoms te bepaal nie. Jou mislukkings hoef nie jou identiteit te wees nie. Deur God se genade kan jou grootste mislukking die begin van ’n heeltemal nuwe lewe word. Ons ontmoet vlugtig in Kolossense 4 iemand met die naam Markus. Hier het ons ‘n man bekend vir sy mislukking - en vir sy herstel tot ‘n positiewe, vrugbare lewe tot eer van die Here. ‘n Hele storie lê verskuil agter ‘n paar woorde. Kol. 4:10 (NLV), van wie ons lees, “Aristargus, wat saam met my ’n gevangene is, stuur groete, en ook Markus, Barnabas se neef. Oor hom het julle reeds opdragte ontvang. As hy daar kom, moet julle hom verwelkom.” Dis moeilik om te glo Paulus skryf hierdie woorde as ons die hele storie ken. Markus het persoonlik beleef wat beteken om weg te stap van mislukking ‘n mooi toekoms in. Ek praat hieroor in my boodskap oor Markus. Jy is welkom om saam te luister. https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/ https://rss.com/podcasts/hoop-nogtans/
Audio and video play straight from the show's own hosting. PodSubs stores and serves no media.

