
SPEEL KLAAR MET KOMMER - DIE ENIGSTE EFFEKTIEWE MANIER (Kol. 4:12-13) ep. 2636
Ons assosieer die naam Mark Twain met stories soos Tom Sawyer en Huckleberry Finn. Mark Twain was ‘n gewilde spreker en het wêreldwyd gereis. ‘n Groep van sy bewonderaars wou hom graag met sy verjaarsdag gelukwens een jaar, maar hulle het geen idee gehad waar hy hom bevind nie. Onthou, om te reis was destyds tydrowend. Die posdiens was stadig. Maar skynbaar meer betroubaar as vandag. Dit was nog die era voor vliegtuie, selfone, rekenaars en internet. ‘n Brief moes persoonlik afgelewer word. Mark Twain se lesers adresseer die brief, “Mark Twain. God knows where.” Na ‘n paar weke kry die ondersteuners antwoord van Mark Twain. He did. God het geweet waar ek is. Miskien tong in die kies bedoel, want Twain was nie ‘n gelowige nie. Maar hy wou laat weet, hy het die gelukwense ontvang. God weet waar jy is. Hy ken jou situasie. En God weet waaroor jy bekommerd is. Vandag se boodskap is SPEEL KLAAR MET KOMMER - DIE ENIGSTE EFFEKTIEWE MANIER. In Kolossense 4 maak ons kennis met ‘n aantal van Paulus se medewerkers terwyl hy in aanhouding is. Een van hulle is Epafras. Ons staan stil by Kol. 4:12-13. Epafras is saam met Paulus waar die apostel Paulus as gevange aangehou word ter wille van Jesus Christus. Wat Paulus oor hom skryf, hier aan die einde van sy brief aan die gemeente in Kolosse, sê so baie oor die soort mens wat Epafras is. Epafras was die persoon wat die Here gebruik het om die gemeente in Kolosse te vestig. Hy is die leier van die groep gelowiges in Kolosse, en ook skynbaar die naburige plekke, Laodicea en Hiërápolis. Die jong gelowiges in Kolosse word gekonfronteer deur valse leraars. Hierdie valse leraars kom met allerlei idees wat die jong gelowiges heeltemal verwar. Epafras reis al die pad om by Paulus uit te kom sodat Paulus hulle die waarheid kan leer. Epafras waag sy lewe om hom saam met Paulus te skaar. Wat skryf Paulus oor Epafras? Kol. 4:12-13 NLV 12Epafras stuur vir julle groete. Hy is een van julle en ’n dienskneg van Christus Jesus. Hy bid altyd ernstig vir julle dat julle as volwasse gelowiges met volle oortuiging in alles die wil van God sal bly doen. 13Ek kan regtig daarvan getuig dat hy hom baie oor julle bekommer, en ook oor al die gelowiges in Laodisea en Hiërapolis. AFR1953 12 Épafras wat een van julle is, 'n dienskneg van Christus, groet julle en stry altyd vir julle in die gebede, dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God. 13Want ek getuig van hom dat hy 'n groot ywer het vir julle en vir die wat in Laodicéa en die wat in Hiërápolis is. Wat Paulus opmerk van Epafras is hoeveel hy vir die gelowiges tuis omgee. Hy bekommer hom oor die gelowiges tuis is. Maar Epafras het geweet wat om met sy kommer te doen, en ons gaan by hom leer hoe om klaar te speel met kommer. https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/ https://rss.com/podcasts/hoop-nogtans/
Audio and video play straight from the show's own hosting. PodSubs stores and serves no media.

