
AS ONS MAAR NET SOU LEEF WAT ONS PREEK ep. 2635
AS ONS MAAR NET SOU LEEF WAT ONS PREEK In haar outobiografie Climbing, memories of a misionary's wife, vertel Rosalind Goforth van haar 47 jaar as 'n sendeling saam met haar man, Jonathan in China. In 1889, 18 maande nadat hul in China arriveer, sterf hul 11-maande-oue dogtertjie. Die naaste begraafplaas vir buitelanders is meer as 100km weg, en haar man moet dieselfde dag die tog aanpak om sy dogtertjie se liggaampie te gaan begrawe. Rosalind is gebroke. Twee Chinese vrouens sit net buite die venster en praat oor die tragedie wat die sendelinge getref het. Hulle weet nie sy sit op 'n rusbank aan die ander kant van die venster nie. Die vrouens is baie simpatiek. Hulle praat oor Rosalind se mooi eienskappe. Sy praat hulle taal so goed. Sy preek so vurig, sê die een. Die ander voeg by, sy is lief vir die Chinese. Dis net jammer oor haar vinnige humeur! AS SY MAAR NET SOU LEEF WAT SY PREEK! Rosalind is eers baie kwaad; dan oorval die hartseer haar. Maar sy begin dink oor die woorde wat so seermaak: As sy maar net sou leef wat sy preek. Vir jare daarna probeer sy verbeter, maar dit gaan maar swaar. Jare later, in 1916, moet sy en haar man siekverlof neem toe hy baie siek word. In daardie tyd weg van die sendingveld begin sy fokus op 'n waarheid in God se Woord: dat Christus in ons moet werk; ons kan nie Sy karakter in eie krag openbaar nie. Die Here begin haar verander. In 1917 keer hulle terug na China. Na 'n paar maande ontvang hulle besoek van 'n paar vername Chinese kerkleiers. Hulle wil alleen met haar man praat. Na hulle vertrek, lig hy Rosalind wat die doel van hulle besoek is: Hulle wil weet, wat is die geheim, hoekom is sy vrou soveel anders? Jesus wat deur haar werk het haar verander. Sy preek nie net iets nie. Sy leef dit. Jesus leef dit deur haar. Christen-wees gaan nie bloot daaroor om die regte dinge oor Christus te glo nie, maar om al hoe meer soos Christus te word in die manier waarop ons dink, praat, optree en ander mense behandel. Ongelukkig is Christene dikwels die swakste advertensie vir die Christelike geloof. Wat sien die wêreld wanneer hulle na Christene kyk? In 2007 het die Amerikaanse Barna-navorsingsgroep 'n studie gepubliseer oor hoe jong Amerikaners wat nie Christene is nie, die Christendom beskou. • 87% van die deelnemersd aan die navorsing het die Christendom as veroordelend beskryf. • 85% die Christendom as skynheilig beskryf. Die werklikheid is dat daar dikwels 'n groot teenstrydigheid in baie Christene se lewens is. Ons verkondig 'n Verlosser wat liefdevol, vol deernis, nederig, sagmoedig, vergewensgesind en genadig is. Tog ervaar mense soms juis diegene wat beweer dat hulle Hom volg as veroordelend, hoogmoedig, hardvogtig, onvergewensgesind en skynheilig. Ons verkondig genade, maar sukkel om genade aan ander te bewys. En miskien die ontstellendste van alles: Ons kan so gewoond raak aan hierdie teenstrydighede dat dit ons nie eens meer pla nie. Dit konfronteer ons met 'n ongemaklike vraag: Hoe is dit moontlik dat mense wat Jesus Christus volg - die liefdevolste, genadigste en mees deernisvolle Persoon wat ooit geleef het - soms ervaar word as die presiese teenoorgestelde van Hom? Natuurlik is Christene nie volmaak nie. Ons is sondaars wat uit genade gered is. Niemand behoort volmaaktheid te verwag van mense wat nog besig is om deur God verander te word nie. Maar daar is 'n wêreld se verskil tussen 'n Christen wat met sonde worstel en nederig God se genade soek, en 'n Christen wat gemaklik geraak het met gesindhede en gedrag wat lynreg teen die karakter van Christus indruis. Dit is presies die saak wat Paulus in Kolossense 3 aanspreek. Ek deel graag 'n paar insigte met jou hieroor: https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/ https://rss.com/podcasts/hoop-nogtans/
Audio and video play straight from the show's own hosting. PodSubs stores and serves no media.

