
GOD SE PLAN VIR JOU IS ‘N VERANDERDE LEWE (Kol. 1:28) ep. 2633
Robert Robinson is in die 1700's in Engeland gebore. As 'n jong man het hy onder die invloed van die bekende Metodiste-prediker, George Whitefield, gekom. Robert het 'n Christen geword en toe sy lewe aan die bediening gewy. Hy was ‘n baie gewilde prediker en mense het toegestroom om na hom te luister. Later kom hy sterk onder die invloed van mense wat ‘n valse leerstelling oor die Godheid van Jesus verkondig het. Daar is ‘n storie dat hy eendag op 'n poskoets sit langs 'n vrou wat verdiep was in die lees van 'n boek. Sy het oor en oor na een spesifieke bladsy in die boek teruggekeer. Uiteindelik het sy na Robinson gedraai en gewys na dit wat sy gelees het. Dit was 'n gesang. Dit begin met die woorde: Come, thou Fount of every blessing; tune my heart to sing thy grace; streams of mercy, never ceasing, call for songs of loudest praise. ‘n Lied wat vandag nog in kerke oor die wêreld heen gesing word. Toe Robinson die eerste reël lees, het hy dadelik van haar af weggekyk. Sy het die gesang weer voor hom gedruk en vir hom vertel hoeveel dit haar geseën het. Uiteindelik het hy na haar gedraai en met trane in sy oë gesê: “Mevrou, ek het daardie gesang geskryf, en ek sou 'n duisend wêrelde gee, as ek hul gehad het, om weer te ervaar wat ek toe gevoel het.” Ironies genoeg het die laaste woorde van die gesang 'n beskrywing gebied van wat skynbaar met hom gebeur het. Die laaste woorde is: “Prone to wander, Lord, I feel it, Prone to leave the God I love; Here’s my heart, O take and seal it; Seal it for thy courts above.” Ons kom na Christus as sondaars. Ons kom as gebroke mense. Seergemaak deur die sonde - ons sonde, en die sondes van ander mense. Ons kom as mense wat verniel is deur omstandighede. Die evangelie gaan om herstel; dit gaan om groei om te word wat God wil hê ons moet wees. En Jesus Christus staan absoluut sentraal in ons redding en in ons geestelike groei en in ons werk vir Hom. Daar is ‘n direkte verband tussen wat die kerk verkondig en wat in mense se lewens gebeur: As Jesus Christus verkondig word - wat Hy gedoen het, wie Hy is - dan verander mense se lewens. As Jesus nie meer die middelpunt is nie, dan word mense nie meer gered nie, dan groei mense nie in hulle toewyding aan die Here Jesus nie, dan word hulle karakter nie meer verander om meer en meer soos die Here Jesus te word nie, dan verflou hulle liefde vir Hom. Dis onvermydelik. GOD SE PLAN VIR JOU IS ‘N VERANDERDE LEWE In die eerste hoofstuk van Paulus se brief aan die Kolossense het hy die Godheid van die Here Jesus so treffend verduidelik. Dit het spontaan gelei tot sy lieflike gebed vir hulle. Dan kom hy in Kol. 1:28, “Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel.”
Audio and video play straight from the show's own hosting. PodSubs stores and serves no media.

